Ek onthou hoe ek altyd my eksamenrooster gekry het en dadelik eerste gekyk het wanneer ek Wiskunde skryf. Ek vermoed dit werk vandag nog steeds so. Is jy een van daardie ouers of leerders wat die datum met ’n rooi pen omkring en jy seker is dat die dag daarna weer die 1ste dag van die res van jou lewe is – as jy net daarby verby kan kom? Dan kan jy gerus jou ore spits: ’n Wiskunde-eksamenvraestel hoef nie die einde van die wêreld te wees nie.
Almal is nie dieselfde nie. Ons het verskillende talente, ambisies en omstandighede. Hier is algemene wenke om ’n sukses van ’n Wiskunde-vraestel (en eksamen in die algemeen) te maak. Neem daaruit wat vir jou situasie sal werk en ontwikkel dit tot ’n unieke flatervrye resep:
- Soos Fiela vir Benjamin gesê het: jaag weg die bang! Om op jou senuwees of selfs angstig te wees is tot ’n mate goed, want dit dwing jou om die voorbereidingsproses ernstig op te neem. Maar as dit jou keel laat toetrek en jou oormatig laat sweet, moet jy nou diep asem haal. Vir soveel beroepe is Wiskunde en Fisiese Wetenskap die onderbou van die tipe werk en studies en daarom is Wiskundeprestasie belangrik, maar prestasie en vrees gaan nie saam nie.
- Mense hanteer angs en spanning verskillend. Vir sommige beteken dit hulle moet ’n uitlaatklep hê, bv. harde oefening. Vir my werk dit goed om myself so goed moontlik voor te berei vir ’n taak wat my angstig maak. Ek dink ’n kombinasie van hierdie metodes is dalk ’n wenresep. Vind uit wat vir jou as leerder (of jou kind) werk en pas dit toe hierdie eksamen.
- Begin vroegtydig werk. Onthou: van uitstel kom afstel! Die leerproses leun baie sterk op herhaling en dit kan net plaasvind as daar genoeg tyd is. Hoe beter ’n mens voorberei is, d.w.s. hoe meer ingeoefen die leerwerk is, hoe skraler is die kans dat jy ’n “blank” gaan slaan.
- ’n Mens kan net vir ’n sekere tydperk op ’n slag konsentreer. Werk hard vir ’n ruk (sonder enigiets wat jou aandag aftrek) en hou dan ’n bietjie pouse. Dit is belangrik dat jy in daardie pouse nie iets doen wat verdere konsentrasie verg nie. Kry jou kop skoon. Gaan stap ’n draai of gesels met iemand oor ditjies en datjies. Moet net nie pouses langer as studiesessies maak nie – so vorder ’n mens ook nie.
- Wiskunde is ’n vak waarvoor jy baie hard moet werk om te presteer. Dit is soos atletiek: jy moet soveel as moontlik oefen, want selfs al het jy die beste afrigter in die wêreld, sal jy steeds nie die 3000m-wedloop kan wen as jy nie fiks genoeg is nie! Oefen, oefen, oefen!
- Maar selfs al oefen jy kliphard, MOET jy eers die basiese konsepte verstaan. Die basis van Wiskunde is die teorie! Jy MOET die teorie 100% ken om dit goed te kan toepas! (Aangehaal uit die voorwoord van my boek)
- Dus: Wiskunde is ‘n ‘leervak’. Aanvaar dit en maak vrede daarmee. Daar is baie detail (formules, definisies, stellings, metodes, terminologie ens.) wat jy moet KEN om dit toe te pas. Teorie is die bakstene van die huis en die toepassing die dak, sement en verf. Sonder jou teoriebakstene is jou huis net ’n dak wat lukraak op die grond staan – absoluut nutteloos!
- Nadat jy seker gemaak het dat jy die teorie 100% ken en die metodiek kan volg, kan jy begin oefen. Gebruik verskillende bronne om voorbeelde te oefen, bv. ’n handboek, ’n klaswerkboek en ou vraestelle. Maak seker dat die memorandums ook beskikbaar is, want dit help ook nie iets verkeerds word ingeoefen nie.
- As jy nie verstaan waarom jou antwoord verskil van die regte antwoord nie en jy kan ook nie uit die memorandum agterkom waar jy fouteer het nie, moet jy hulp gaan soek. ’n Ekstraklas kan handig wees in so ’n geval, of selfs ’n 5 min-sessie met jou onderwyser. Onthou egter: ’n ekstraklas is nie ’n klinkklare oplossing nie. Nadat iemand jou gehelp het, moet jy die nuwe kennis joune maak.
- Een van die beste maniere om vir Wiskunde te leer is om dit vir iemand anders te verduidelik. Ek sê altyd: jou pen kan makliker oor ’n struikelblok kom as jou tong. Jy kan bv. deel wees van ’n studiegroep (solank die fokus is om te werk en nie te sosialiseer nie!) waarvan die ander lede op dieselfde vlak as jy is. Dit is egter nie al metode nie (veral nie vir laerskoolleerders nie!). Om vir jou ma te probeer verduidelik, kan net so effektief wees!
- Met voorbereiding vir toetse en eksamens moet leerders oefen om verskillende somme deurmekaar te doen en nie net afdeling vir afdeling nie. So kan jy (of jou ouers) agterkom of jy wel weet wat van jou verwag word en wat die beginpunt vir verskillende tipes somme is.
- Sorg dat jy uitgerus is en drink genoeg water. Jou liggaam het water nodig om energie te skep en jou brein gebruik meer energie as wat jy dink! ’n Dowwe brein a.g.v. min slaap of te min water, gaan ’n dowwe punt oplewer! Jy moet seker maak dat jy die “taal” van ’n vraestel verstaan. Moet jy die uitdrukking vereenvoudig of ’n probleem oplos? Leer die verskillende tipes instruksies en maak seker dat jy dit in die vraestel uitvoer.
- Beantwoord vrae volledig! Wanneer jy bv. ’n woordsom beantwoord, lees weer die vraag deur om te verseker dat jy wel die vraag wat gevra is, beantwoord het en nie net halfpad gevorder het met jou berekeninge nie.
- Kleurpenne en highlighters kan jou beste vriende wees wanneer jy ’n vraestel beantwoord. Maak gebruik daarvan om sketse, groeperings en instruksies duidelik te maak.
En onthou: JY KAN!
* Nota vir OUERS: Moenie moedeloos word nie! Die belangrikste is: wees positief en moenie jou eie negatiewe ervarings van Wiskunde met jou kind deel nie. Net omdat jy gesukkel het met Wiskunde beteken nie dit regverdig dat Boeta nie regkom nie of dat Sussa dit nooit sal kan doen nie. Hulle moet weet dat hul ouers in hull glo en dat Wiskunde nie ’n onoorwinbare monster is nie.
** Ek sal met verloop van tyd verdere inskrywings post wat meer detail bevat oor van die wenke wat hierbo genoem is.