Sunday 29 May 2016

Leer met kleur!

Vir soveel leerders is Wiskunde 'n dowwe, swart op wit monster.  Veral soos hul ouer word en toe doen kry met al hoe meer sketse, bv. grafieke of euklidiese meetkunde, word hul nagmerries ingekleur met swart strepe en krommes op wit papier.

Tog het ek gevind dat 'n paar kleurpenne / highlighters / inkleurpotlode in jou pennesakkie, die wêreld se verskil kan maak. Voeg 'n bietjie kleur by en die som PRAAT skielik met jou - dit wat bekend is word uitgelig en skielik duidelik gemaak.

Ek demonstreer met die volgende voorbeeld:

Kyk na hierdie twee voorbeelde van figure waarvan Gr. 9-leerders die omtrek en oppervlaktes moet bereken:




Leerders is bekend met die formules om die volgende figure se oppervlakte en omtrek te bereken:  'n Vierkant, Reghoek, Driehoek en Sirkel.  Die figure hierbo lyk geensins soos een van die vorms wat leerders tradisioneel ken nie.  MAAR, voeg kleur by en skielik is dit (letterlik) 'n ander prentjie:




Kyk na die prentjie van die 'atletiekbaan' hierbo.  Deur dit met kleur te omlyn, is dit duidelik dat meer bekende figure nou uitgelig word: 2 halwe sirkels (wat saam 1 hele sirkel maak) en 'n reghoek.  Deur dan die oppervlaktes van die twee vorms uit te werk, kan 'n totale oppervlakte vir die figuur bereken word.

Dieselfde geld vir die volgende figuur: dit bestaan uit 'n reghoek en 'n driehoek. In die voorbeeld het ek die driehoek blou gemaak, die reghoek rooi en dan met 'n pers kleur al die buitelyne omlyn - sodat dit makliker is om te bepaal wat die omtrek is, aangesien die gemeenskaplike lyn van die driehoek en reghoek (binne die figuur) nie ingereken kan word by omtrek nie.

Nog voorbeelde vir die gebruik van kleur by sketse, kan bv. wees om kongruente driehoeke te help identifiseer, of die oorstemmende sye in gelykvormige driehoeke, of om ewewydige lyne duidelik aan te dui.  Ek het in my boek ryklik gebruik gemaak van kleur en die kommentaar was baie positief!

Vir Gr.10-12, waar grafieke (funksies) geteken word en afleidings daarvan gemaak moet word, is kleur net so nutting (en in my opinie, noodsaaklik!):



In die eerste skets is 'n parabool, 'n reguitlyn, 'n vergelyking, geordende getallepare en 'n Cartesiese vlak.  In die tweede skets het ek waskleurpenne gebruik en die parabool met pienk omlyn en die reguitlyn met groen.  Dit bring dadelik die sketse uit - beklemtoon die afsnitte en snyding van die grafieke en plaas die Cartesiese vlak op die agtergrond.  Ek het ook sommer die vergelyking van die reguitlyn by die lyn in groen ingekleur, wat die twee dadelik bymekaar pas.  Dit behoort nou soveel makliker te wees om vrae oor die grafieke te beantwoord, aangesien daar duidelike onderskeid is.

Kleiner kinders (in bv. die Grondslagfase) se handboeke het dikwels meer kleur in, maar vraestelle en gefotostateerde werkkaarte is steeds swart, grys en wit.  Wat ek agtergekom het, is onder andere hoe baie leerders sukkel met die konsep van die twee verskillende elemente van breuke  - nie noodwendig 'n breuk in geheel nie - maar om onderskeid te tref tussen wat die teller en noemer beteken.


 Hier het ek gevind dat kleur ook kan help.  Gebruik, soos hieronder, een kleur om die dele waarin die geheel gedeel word, te omlyn (in groen), en dan 'n ander om die stuk wat deur die breuk verteenwoordig word, in te kleur (geel). As ouer kan jy jou kleinding (en selfs groter 'ding') nou help deur die teller in geel te skryf en die noemer in groen.




Kleur hoef egter nie net altyd van toepassing op sketse te wees nie.  Wanneer Gr. 8's die eerste keer werklik kennis maak met algebraïese terme en veranderlikes (bv. x en y) en boonop nog die volgorde van bewerkings daarmee moet kombineer, raak dit uitdagend.  Voeg nou eksponente by, waarvan die reëls anders is as gewoon gelyksoortige terme, en hulle slaan sommer in die middel van die winter sweet uit.  Sien die onderstaande voorbeeld:


Die feit dat die eerste 2 terme albei 'n kwadraat bevat, is vir Gr. 8's en selfs Gr. 9's verwarrend.  Ek gebruik die beeld van vrugte (onderskei appels van pere) in my boek en ek gebruik dan kleur om om die gelyksoortige terme makliker uit te lig, bv.:


Ander voorbeelde van effektiewe gebruik van kleur, is om die instruksies te verlig (bv. vereenvoudig of faktoriseer) en om in 'n woordsom al die verskillende gegewens uit te lig om te verseker dat nuttige inligting nie weggelaat word in berekeninge nie. 

Natuurlik is daar tans probleme met die gebruik van kleur om Wiskunde makliker te maak.  Nie alle handboeke kan nie in volkleur gedruk word nie, want dit maak dit baie duur en dieselfde geld vir werkkaarte en vraestelle wat gefotostateer word.

Daar is verder die belangrike feit dat enige aanpassing op sketse in matriekvraestelle as 'n 'eksamenongeruimdheid' gesien kan word (so ook die gebruik van flaterwater of 'Tip-Ex'!).

Nog 'n probleem - en dit is dalk groter as die eersgenoemdes, is dat leerders net eenvoudig te lui is om kleur te gebruik; dit nie by hul ingeoefen is nie; of  hul bang is hul kry nie betyds klaar met 'n vraestel as hul 'tydmors met inkleur' nie.

Ek glo egter dat daar 'n oplossing vir die bogenoemde probleme is en dit begin by die leerders self.

Eerstens moet 'n soort kultuur van kleur geskep word - verkieslik op 'n jong ouderdom - en as die juffrou nie heeltemal daaraan wil byt nie, kan Ma en Pa inspring en help.

Tweedens moet leerders verstaan dat die gebruik van kleur POSITIEF is en dat die behoorlike toepassing daarvan nie tydmors is nie, maar juis TYDBESPAREND kan wees aangesien dit die denkprosesse vergemaklik en bespoedig.

Derdens moet 'n leerder (veral seuns) eenvoudig hul kleurpenne optel en begin werk - of dit nou moeite is of nie.

Selfs die 'eksamenongeruimdheid' kan vermy word, deur kleur op die vraestel self te bruik, en nie op die antwoordblad nie.  Onthou: vraestelle word wel weer opgeneem aan die einde van 'n sessie, maar dit word deur die skool self gebêre en weer gebruik, of vernietig.  Die vraestelle van leerders kom nêrens naby 'n merksentrum nie!

Dus: hardloop gerus by jou naaste supermark of skryfbehoeftewinkel in en koop alles in kleur wat jou hart begeer! Pak dan jou Wiskundehuiswerk en nuwe ywer aan, maak oop jou pakkie koukies en laat waai!  Daar is immers min dinge so lekker soos om jou nuwe skryfbehoeftes uit jou pennesakkie te haal en dit te toets nie...

Lekker 'inkleur' en lekker leer!

Friday 27 May 2016

Eksamenhulp vir Leerders (en Ouers)

Dit is daardie tyd van die jaar: dinge kom stadig tot ’n stilstand en daar daal so ’n gewigtige stilte oor die huishouding neer. Herken jy hierdie gevoel? Indien wel, sal jy saamstem dat dit beteken die Junie-eksamen is voor die deur In plaas van lekker warm drankies en sagte kombersies, is jou voorland nou ’n stoel en ’n lessenaar! 

Ek onthou hoe ek altyd my eksamenrooster gekry het en dadelik eerste gekyk het wanneer ek Wiskunde skryf. Ek vermoed dit werk vandag nog steeds so. Is jy een van daardie ouers of leerders wat die datum met ’n rooi pen omkring en jy seker is dat die dag daarna weer die 1ste dag van die res van jou lewe is – as jy net daarby verby kan kom? Dan kan jy gerus jou ore spits: ’n Wiskunde-eksamenvraestel hoef nie die einde van die wêreld te wees nie.

Almal is nie dieselfde nie. Ons het verskillende talente, ambisies en omstandighede. Hier is algemene wenke om ’n sukses van ’n Wiskunde-vraestel (en eksamen in die algemeen) te maak. Neem daaruit wat vir jou situasie sal werk en ontwikkel dit tot ’n unieke flatervrye resep: 


  • Soos Fiela vir Benjamin gesê het: jaag weg die bang! Om op jou senuwees of selfs angstig te wees is tot ’n mate goed, want dit dwing jou om die voorbereidingsproses ernstig op te neem. Maar as dit jou keel laat toetrek en jou oormatig laat sweet, moet jy nou diep asem haal. Vir soveel beroepe is Wiskunde en Fisiese Wetenskap die onderbou van die tipe werk en studies en daarom is Wiskundeprestasie belangrik, maar prestasie en vrees gaan nie saam nie. 
  •  Mense hanteer angs en spanning verskillend. Vir sommige beteken dit hulle moet ’n uitlaatklep hê, bv. harde oefening. Vir my werk dit goed om myself so goed moontlik voor te berei vir ’n taak wat my angstig maak. Ek dink ’n kombinasie van hierdie metodes is dalk ’n wenresep. Vind uit wat vir jou as leerder (of jou kind) werk en pas dit toe hierdie eksamen.
  • Begin vroegtydig werk. Onthou: van uitstel kom afstel! Die leerproses leun baie sterk op herhaling en dit kan net plaasvind as daar genoeg tyd is. Hoe beter ’n mens voorberei is, d.w.s. hoe meer ingeoefen die leerwerk is, hoe skraler is die kans dat jy ’n “blank” gaan slaan. 
  • ’n Mens kan net vir ’n sekere tydperk op ’n slag konsentreer. Werk hard vir ’n ruk (sonder enigiets wat jou aandag aftrek) en hou dan ’n bietjie pouse. Dit is belangrik dat jy in daardie pouse nie iets doen wat verdere konsentrasie verg nie. Kry jou kop skoon. Gaan stap ’n draai of gesels met iemand oor ditjies en datjies. Moet net nie pouses langer as studiesessies maak nie – so vorder ’n mens ook nie. 
  • Wiskunde is ’n vak waarvoor jy baie hard moet werk om te presteer. Dit is soos atletiek: jy moet soveel as moontlik oefen, want selfs al het jy die beste afrigter in die wêreld, sal jy steeds nie die 3000m-wedloop kan wen as jy nie fiks genoeg is nie! Oefen, oefen, oefen! 
  • Maar selfs al oefen jy kliphard, MOET jy eers die basiese konsepte verstaan. Die basis van Wiskunde is die teorie! Jy MOET die teorie 100% ken om dit goed te kan toepas! (Aangehaal uit die voorwoord van my boek) 
  • Dus: Wiskunde is ‘n ‘leervak’. Aanvaar dit en maak vrede daarmee. Daar is baie detail (formules, definisies, stellings, metodes, terminologie ens.) wat jy moet KEN om dit toe te pas. Teorie is die bakstene van die huis en die toepassing die dak, sement en verf. Sonder jou teoriebakstene is jou huis net ’n dak wat lukraak op die grond staan – absoluut nutteloos! 
  • Nadat jy seker gemaak het dat jy die teorie 100% ken en die metodiek kan volg, kan jy begin oefen. Gebruik verskillende bronne om voorbeelde te oefen, bv. ’n handboek, ’n klaswerkboek en ou vraestelle. Maak seker dat die memorandums ook beskikbaar is, want dit help ook nie iets verkeerds word ingeoefen nie. 
  • As jy nie verstaan waarom jou antwoord verskil van die regte antwoord nie en jy kan ook nie uit die memorandum agterkom waar jy fouteer het nie, moet jy hulp gaan soek. ’n Ekstraklas kan handig wees in so ’n geval, of selfs ’n 5 min-sessie met jou onderwyser. Onthou egter: ’n ekstraklas is nie ’n klinkklare oplossing nie. Nadat iemand jou gehelp het, moet jy die nuwe kennis joune maak. 
  • Een van die beste maniere om vir Wiskunde te leer is om dit vir iemand anders te verduidelik. Ek sê altyd: jou pen kan makliker oor ’n struikelblok kom as jou tong. Jy kan bv. deel wees van ’n studiegroep (solank die fokus is om te werk en nie te sosialiseer nie!) waarvan die ander lede op dieselfde vlak as jy is. Dit is egter nie al metode nie (veral nie vir laerskoolleerders nie!). Om vir jou ma te probeer verduidelik, kan net so effektief wees! 
  • Met voorbereiding vir toetse en eksamens moet leerders oefen om verskillende somme deurmekaar te doen en nie net afdeling vir afdeling nie. So kan jy (of jou ouers) agterkom of jy wel weet wat van jou verwag word en wat die beginpunt vir verskillende tipes somme is. 
  • Sorg dat jy uitgerus is en drink genoeg water. Jou liggaam het water nodig om energie te skep en jou brein gebruik meer energie as wat jy dink! ’n Dowwe brein a.g.v. min slaap of te min water, gaan ’n dowwe punt oplewer! Jy moet seker maak dat jy die “taal” van ’n vraestel verstaan. Moet jy die uitdrukking vereenvoudig of ’n probleem oplos? Leer die verskillende tipes instruksies en maak seker dat jy dit in die vraestel uitvoer. 
  • Beantwoord vrae volledig! Wanneer jy bv. ’n woordsom beantwoord, lees weer die vraag deur om te verseker dat jy wel die vraag wat gevra is, beantwoord het en nie net halfpad gevorder het met jou berekeninge nie. 
  • Kleurpenne en highlighters kan jou beste vriende wees wanneer jy ’n vraestel beantwoord. Maak gebruik daarvan om sketse, groeperings en instruksies duidelik te maak. 

Baie sterkte met jou leerwerk – onthou, Wiskunde maak die toekoms vir jou oop! Werk liewer nou harder, maar pluk die vrugte daarvan as jy eendag elke oggend uitsien daarna om werk toe te gaan! Neem self verantwoordelikheid vir jou toekoms! Jy kan nie ’n Wiskundevraestel wegwens nie en met die regte gesindheid en voorbereiding kan jy eerder fokus op die groter prentjie: ’n blink toekoms! 

En onthou: JY KAN! 

* Nota vir OUERS: Moenie moedeloos word nie! Die belangrikste is: wees positief en moenie jou eie negatiewe ervarings van Wiskunde met jou kind deel nie. Net omdat jy gesukkel het met Wiskunde beteken nie dit regverdig dat Boeta nie regkom nie of dat Sussa dit nooit sal kan doen nie. Hulle moet weet dat hul ouers in hull glo en dat Wiskunde nie ’n onoorwinbare monster is nie. 

 ** Ek sal met verloop van tyd verdere inskrywings post wat meer detail bevat oor van die wenke wat hierbo genoem is.