Sunday 29 May 2016

Leer met kleur!

Vir soveel leerders is Wiskunde 'n dowwe, swart op wit monster.  Veral soos hul ouer word en toe doen kry met al hoe meer sketse, bv. grafieke of euklidiese meetkunde, word hul nagmerries ingekleur met swart strepe en krommes op wit papier.

Tog het ek gevind dat 'n paar kleurpenne / highlighters / inkleurpotlode in jou pennesakkie, die wêreld se verskil kan maak. Voeg 'n bietjie kleur by en die som PRAAT skielik met jou - dit wat bekend is word uitgelig en skielik duidelik gemaak.

Ek demonstreer met die volgende voorbeeld:

Kyk na hierdie twee voorbeelde van figure waarvan Gr. 9-leerders die omtrek en oppervlaktes moet bereken:




Leerders is bekend met die formules om die volgende figure se oppervlakte en omtrek te bereken:  'n Vierkant, Reghoek, Driehoek en Sirkel.  Die figure hierbo lyk geensins soos een van die vorms wat leerders tradisioneel ken nie.  MAAR, voeg kleur by en skielik is dit (letterlik) 'n ander prentjie:




Kyk na die prentjie van die 'atletiekbaan' hierbo.  Deur dit met kleur te omlyn, is dit duidelik dat meer bekende figure nou uitgelig word: 2 halwe sirkels (wat saam 1 hele sirkel maak) en 'n reghoek.  Deur dan die oppervlaktes van die twee vorms uit te werk, kan 'n totale oppervlakte vir die figuur bereken word.

Dieselfde geld vir die volgende figuur: dit bestaan uit 'n reghoek en 'n driehoek. In die voorbeeld het ek die driehoek blou gemaak, die reghoek rooi en dan met 'n pers kleur al die buitelyne omlyn - sodat dit makliker is om te bepaal wat die omtrek is, aangesien die gemeenskaplike lyn van die driehoek en reghoek (binne die figuur) nie ingereken kan word by omtrek nie.

Nog voorbeelde vir die gebruik van kleur by sketse, kan bv. wees om kongruente driehoeke te help identifiseer, of die oorstemmende sye in gelykvormige driehoeke, of om ewewydige lyne duidelik aan te dui.  Ek het in my boek ryklik gebruik gemaak van kleur en die kommentaar was baie positief!

Vir Gr.10-12, waar grafieke (funksies) geteken word en afleidings daarvan gemaak moet word, is kleur net so nutting (en in my opinie, noodsaaklik!):



In die eerste skets is 'n parabool, 'n reguitlyn, 'n vergelyking, geordende getallepare en 'n Cartesiese vlak.  In die tweede skets het ek waskleurpenne gebruik en die parabool met pienk omlyn en die reguitlyn met groen.  Dit bring dadelik die sketse uit - beklemtoon die afsnitte en snyding van die grafieke en plaas die Cartesiese vlak op die agtergrond.  Ek het ook sommer die vergelyking van die reguitlyn by die lyn in groen ingekleur, wat die twee dadelik bymekaar pas.  Dit behoort nou soveel makliker te wees om vrae oor die grafieke te beantwoord, aangesien daar duidelike onderskeid is.

Kleiner kinders (in bv. die Grondslagfase) se handboeke het dikwels meer kleur in, maar vraestelle en gefotostateerde werkkaarte is steeds swart, grys en wit.  Wat ek agtergekom het, is onder andere hoe baie leerders sukkel met die konsep van die twee verskillende elemente van breuke  - nie noodwendig 'n breuk in geheel nie - maar om onderskeid te tref tussen wat die teller en noemer beteken.


 Hier het ek gevind dat kleur ook kan help.  Gebruik, soos hieronder, een kleur om die dele waarin die geheel gedeel word, te omlyn (in groen), en dan 'n ander om die stuk wat deur die breuk verteenwoordig word, in te kleur (geel). As ouer kan jy jou kleinding (en selfs groter 'ding') nou help deur die teller in geel te skryf en die noemer in groen.




Kleur hoef egter nie net altyd van toepassing op sketse te wees nie.  Wanneer Gr. 8's die eerste keer werklik kennis maak met algebraïese terme en veranderlikes (bv. x en y) en boonop nog die volgorde van bewerkings daarmee moet kombineer, raak dit uitdagend.  Voeg nou eksponente by, waarvan die reëls anders is as gewoon gelyksoortige terme, en hulle slaan sommer in die middel van die winter sweet uit.  Sien die onderstaande voorbeeld:


Die feit dat die eerste 2 terme albei 'n kwadraat bevat, is vir Gr. 8's en selfs Gr. 9's verwarrend.  Ek gebruik die beeld van vrugte (onderskei appels van pere) in my boek en ek gebruik dan kleur om om die gelyksoortige terme makliker uit te lig, bv.:


Ander voorbeelde van effektiewe gebruik van kleur, is om die instruksies te verlig (bv. vereenvoudig of faktoriseer) en om in 'n woordsom al die verskillende gegewens uit te lig om te verseker dat nuttige inligting nie weggelaat word in berekeninge nie. 

Natuurlik is daar tans probleme met die gebruik van kleur om Wiskunde makliker te maak.  Nie alle handboeke kan nie in volkleur gedruk word nie, want dit maak dit baie duur en dieselfde geld vir werkkaarte en vraestelle wat gefotostateer word.

Daar is verder die belangrike feit dat enige aanpassing op sketse in matriekvraestelle as 'n 'eksamenongeruimdheid' gesien kan word (so ook die gebruik van flaterwater of 'Tip-Ex'!).

Nog 'n probleem - en dit is dalk groter as die eersgenoemdes, is dat leerders net eenvoudig te lui is om kleur te gebruik; dit nie by hul ingeoefen is nie; of  hul bang is hul kry nie betyds klaar met 'n vraestel as hul 'tydmors met inkleur' nie.

Ek glo egter dat daar 'n oplossing vir die bogenoemde probleme is en dit begin by die leerders self.

Eerstens moet 'n soort kultuur van kleur geskep word - verkieslik op 'n jong ouderdom - en as die juffrou nie heeltemal daaraan wil byt nie, kan Ma en Pa inspring en help.

Tweedens moet leerders verstaan dat die gebruik van kleur POSITIEF is en dat die behoorlike toepassing daarvan nie tydmors is nie, maar juis TYDBESPAREND kan wees aangesien dit die denkprosesse vergemaklik en bespoedig.

Derdens moet 'n leerder (veral seuns) eenvoudig hul kleurpenne optel en begin werk - of dit nou moeite is of nie.

Selfs die 'eksamenongeruimdheid' kan vermy word, deur kleur op die vraestel self te bruik, en nie op die antwoordblad nie.  Onthou: vraestelle word wel weer opgeneem aan die einde van 'n sessie, maar dit word deur die skool self gebêre en weer gebruik, of vernietig.  Die vraestelle van leerders kom nêrens naby 'n merksentrum nie!

Dus: hardloop gerus by jou naaste supermark of skryfbehoeftewinkel in en koop alles in kleur wat jou hart begeer! Pak dan jou Wiskundehuiswerk en nuwe ywer aan, maak oop jou pakkie koukies en laat waai!  Daar is immers min dinge so lekker soos om jou nuwe skryfbehoeftes uit jou pennesakkie te haal en dit te toets nie...

Lekker 'inkleur' en lekker leer!