Friday 3 June 2016

My Boek en Werkkaarte

Ek kry redelik gereeld navrae oor hoe my boek lyk en werk, en wat my besigheid - Wiskunde op 'n Drafstap: Stap vir Stap - nog bied.  Lees gerus verder:

Die boek

Die enigste boek wat ek tans beskikbaar het (ek is besig met navorsing vir ander), is 'n TEORIEBOEK vir Gr. 7-9, beskikbaar in Afrikaans en Engels.

Die boek is tans die enigste van sy soort (volgens my wete) in Suid-Afrika.  Wat dit uniek maak, is dat dit slegs 'n teoretiese boek is, wat m.b.v. 3 verskillende metodes die leerwerk en boustene vir die verskillende onderwerpe wat baasgeraak moet word, neerlê.  Ek maak gebruik van Taal, Wiskundige skryfwyses en kleur om verduidelikings meer verstaanbaar te maak.


Van waar Gehasie?

Ek het 'n pad gestap met 'n kind met ernstige disleksie (disgrafie) wat 'n geweldige agterstand gehad het toe hy in Gr. 8 by my instap.  Sy tipe disleksie veroorsaak dat hy nie enigsins begrip kan vorm van wat op papier staan nie, bv. spasiëring van woorde maak nie vir hom sin nie.  Sy eksamenvraestelle word ook m.b.v. amanuense geskryf (waar sy vraestel vir hom gelees en geskryf word - dus, 'n soort mondelinge eksamen).

Ons kon soms begin om 'n vraestel uit te werk en aan die einde van die vraestel, met nog tyd oor in die klas, het ek hom sommer weer voor laat begin, waarop sy reaksie dikwels was dat hy nog nooit sulke somme gesien het nie en nie weet wat om te doen nie.  Sodra ek hom dan ingelig het dat dit bv. 'n vraag is waar hy gelykvormigheid moet bewys en hom help met die eerste stap, kan hy dan gewoonlik aangaan.

Teen die Novembereksamen van sy Gr. 9-jaar het ek baie benoud geraak oor die kans dat hy die eksamen suksesvol sal kan aflê en het ek besluit om 'n nuwe soort rigting in te skakel.  Ek het gevoel dat indien ek hom kan leer waar die beginpunt is en hoe om dit raak te sien, behoort hy verder te kan voortgaan.

Die beginpunt, het ek gereken, is die teoretiese materiaal wat die onderwerp bevat.  Bv. as hy slegs die woorde ENKELVOUDIGE RENTE in die vraag kan lees en dan dadelik die formule daarvoor kan neerskryf (wat teorie en dus leerwerk is), hy klaar 1 punt uit 3 het.  Indien hy dan verder kan gaan en moontlik nog die korrekte waardes in die korrekte plekke neerskryf, het hy nog 'n punt uit 3 en het dus 66% vir die betrokke vraag.  Indien hy op hierdie manier kan voortgaan, sal hy met gemak deurkom.

Ek het begin om vir hom 'opsommende bladsye' van die teorie te maak, wat dan m.b.v. kleur so aangepas is, dat dit vir sy ma moontlik was om te sit en die leerwerk aan te pak.  Op haar aanbeveling het ek die opsommings toe uitgebrei en ontwikkel in 'n boek.  Die boeke het elk 'n ISBN-nommer en het kopiereg op. Hier is 'n voorbeeld van een van die bladsye:


Werk die boek (en my benadering):

Wel, dit moet elke leerder wat die boek koop (en gebruik!!!) self besluit.  My my student betref: hy het toe die Gr. 9-Wiskunde-eksamen deurgekom en a.g.v. sy verbeterde grondslag en teoretiese benadering, doen hy goed met Wiskundige Geletterdheid.

Hier is wat sy ma te sê het van die boek:



Leerders sukkel om die teoretiese beginsels uit hul handboek te haal wanneer dit geskei word met voorbeelde, oefeninge ens. Ek het begin om die boek te toets op verskeie ander klasse wat ek aangebied het, vir Gr. 7-9 en my ervaring was dat die benadering en hulpmiddel verseker help.  Die boek is selfs al bestel deur Australiërs, Belge, Iere en Kanadese.  Maar, kyk self na die kommentare van kopers:







Hoe om die boek te bestel:

Bestelvorm: Afrikaans  Om te bestel, kan hierdie skakel gebruik word (klik op die woord 'Bestelvorm') en indien jy in Pretoria (of omliggende omgewing bly), is dit beskikbaar by Makarios Boekwinkel, oorkant Laerskool Garsfontein se hoofhek.

Indien die skakel gebruik word om te bestel, kos die boek R150, maar 'n fooi moet nog bygevoeg word vir posgeld (geregistreerde pos of Postnet se Toonbank na Toonbankdiens).  Boeke wat onmiddellik beskikbaar is by Makarios, is R160 elk.

Kyk gerus ook na 'n video waar ek oor die boek praat by en die Powerpoint Video oor my boek (klik op die woord 'Youtube'):


Die werkkaarte

Aangesien die boek slegs teoreties is, met 'n duidelike aanduiding van wat leerders moet leer en ken, sowel as verduidelikings, maar geen oefeninge nie, het die behoefte ontstaan dat ek oefening, oftewel werkkaarte, ontwikkel.  Dit is elektronies beskikbaar as PDF-dokumente, wat ek ná ontvangs van betaling per e-pos aanstuur.

Ek het begin om sekere onderwerpe te neem en dan werkkaarte daaroor te maak, maar met volledige memorandums wat die somme stap vir stap uiteensit.

Ek het nog nie naastenby die verskeidinheid wat ek graag sal wil hê nie, maar ek glo die lys sal groei met tyd, aangesien tyd juis so 'n groot faktor is:  dit neem my soms tot 3 dae om 'n werkkaart en memorandum te finaliseer.

Tans het ek ook nog nie vraestelle opgestel vir verskillende grade nie, maar die plan is dat dit ook sal volg.

Hier is 'n volledige lys van die werkkaarte wat tans gebied word.  Die pryse is gemaak na gelang van die lengte van die werkkaart en die hoeveelheid tyd wat dit my geneem het om dit te ontwikkel.  Stuur 'n e-pos na wiskwerk@gmail.com en noem dan watter jy wil bestel, sowel as die bedrag.  Ek sal die bankbesonderhede aanstuur en sodra ek die betaling ontvang het, stuur ek die werkkaarte aan.

My Droom

My droom is om teoretiese boeke vir al die verskillende onderrigfases in Wiskunde te skryf, sowel as om die werkkaartreeks uit te brei en vraestelle beskikbaar te maak.  Alles gaan natuurlik met navorsing gepaard, wat ek toets en hertoets op verskillende leerders van verskillende vlakke.  Net miskien, kan hierdie benadering 'n daadwerklike verskil in die onderrig van Wiskunde maak in Suid-Afrika (en dalk elders in die wêreld) maak.

Alle eer aan Hom!